|
Lynette Louw
Die verligting en vreugde was duidelik te bespeur by spelers en ondersteuners nadat Barberton se eerste rugbyspan daarin geslaag het om Nelspruit Saterdag op hul tuisveld met 12-9 te klop. Daarmee het hul verseker dat hul eerskomende naweek in die finaal in die Mpumalanga rugbyliga teen Witrivier te staan sal kom.
Soos met enige semi-finaal was dit nie ‘n aanskoulike wedstryd nie en was dit die skopskoene van Sean Westcott (Barberton) en Hennie Oosthuizen (Nelspruit) wat die punte op die telbord geplaas het.
Die eerste helfte het vir geen opwinding gesorg nie en die halftydtelling van drie elk was ‘n goeie weergawe van die spel. Barberton het in die tweede helfte baie meer aanvallende rugby gespeel. Hulle het geboer op Nelspruit se doellyn, maar kon net nie agter die doellyn afrond nie. Gemoedere het met tye ook hoog geloop en spelers van beide spanne is kort-kort aangespreek vir geniepsige spel.
Afrigter van Barberton, Thinus Breedt was baie in sy noppies met sy span se oorwinning en het gesê dat hul die hele seisoen hard gewerk het hiervoor. Die teleurstelling was groot toe hul die vorige naweek nie die nodige bonuspunte teen Witrivier kon aanteken wat hul ‘n semi-finaal op hul tuisveld sou besorg nie.
Volgens Thinus is dit ook die eerste keer sedert hy in 1992 by die klub betrokke geraak het dat Barberton daarin kon slaag om tydens ‘n ligawedstryd op Nelspruit se veld met hul af te reken.
Pieter Potgieter, klubvoorsitter, het namens die komitee die ondersteuners bedank vir hul volgehoue ondersteuning. “Trek asb. jul groen en goud ondersteuners hempde aan en wees almal Saterdag op Witrivier,” het hy gesê. Hemde is steeds beskikbaar by Pieter teen R300.
‘n Harde wedstryd gaan dit gewis wees. Barberton het beide hul kragmetings teen Witrivier hierdie seisoen verloor – die eerste met 29-43 en daarna met 19-21. Enige iets kan Saterdag gebeur met Witrivier wat natuurlik die voordeel het dat hul op hul tuisveld speel. Die wedstryd skop om 16:00 af.
 Spelers en ondersteuners was verheug na Saterdag se oorwinning oor Nelspruit
|