picture 037.jpg


Home arrow Barberton Times arrow 14/07/10 B’ton buig knie in die finaal
Jul 13 2010
14/07/10 B’ton buig knie in die finaal E-mail
Tuesday, 13 July 2010

 

Lynette Louw

 

Die Mpumalanga Klubrugbyliga het verlede naweek op ‘n hoë noot tot ‘n einde gekom. Ongelukkig het dit nie vir die eerstespan van Barberton geëindig soos hul graag sou wou nie, maar dat dit ‘n uitstekende seisoen vir hulle was kan niemand betwyfel nie.

Hulle het in die finaal teen Witrivier te staan gekom en moes met 19-6 die knie teen ‘n duidelik sterker span buig.

Al was die nou al bekende groengeklede ondersteuners bankvas op die pawiljoen in Witrivier, kon hul gunsteling span nie veel teen die tuisspan uitrig nie.

Dit was van die staanspoor af duidelik dat alles in die stryd gewerp gaan word om punte op die telbord te kry. Witrivier het binne die eerste paar minute ‘n strafskop pale toe verbrou en dit was Sean Westcott wat die eerste drie punte vir Barberton met die voet op die telbord gesit het. Witrivier slaag ook nie daarin om met ‘n tweede strafskop pale toe punte aan te teken nie.

Barberton het alles probeer maar kon nie daarin slaag om hul teenstanders uit hul doelgebied weg te kry nie. Witrivier word dan ook beloon vir hul aanvallende spel toe Ryno Robinson kort voor halftyd after die pale gaan druk en dié keer maak Dawie van Deventer seker hy voeg twee punte by. Die halftydtelling was dus 7-3 in Witrivier se guns.

Binne die eerste vyf minute na die afskop in die tweede helfte druk Dewald van der Berg Witrivier se tweede drie. Ongeveer 15 minute later slaan Ryno die laaste spyker in die doodskis toe hy weer vir sy span agter die pale gaan kuier en Grant Vos voeg die finale twee punte vir hulle op die telbord.

Barberton slaag daarin om nog drie punte by hulle telling te voeg toe Sean in nog ‘n strafskop slaag.

‘n Harde wedstryd was dit beslis, maar verseker nie ‘n aanskoulike een nie. Die veld het eerder soos ‘n slagveld gelyk soos wat spelers beserings opgedoen het. Teen die einde van die seisoen behoort die spelers immers superfiks te wees. Of dit Witrivier se negatiewe taktiek was om die spel te vertraag kan bloot oor bespiegel word.

Vir Thinus Breedt, afrigter van Barberton was die uitslag teleurstellend maar hy het gesê dit was Witrivier wat agter die pale gaan kuier het en verdien het om te wen. “Ten spyte daarvan het ons ‘n goeie seisoen gehad en deurgedring tot in die finaal“.

  

 

Image
Barberton se eerstespan is (voor) Hans Meyer, Reinardt Ludick, Dusty Joubert, (middel) Shaun van Rooyen (hoofborg) George de Bruin, Paul Bosua, Jaco Strydom, Andro Venter, Cassie Strydom, Dane Heyneke, Pierre Labuschagne, Martin Coetzee, Pierre Pohl, Sean Westcott, Thinus Breedt (afrigter), (agter) Herman Bosua, Vincent Lenting, Wynand Klaver, Jaco Duminy, Quinten Fourie, Nduduzi Mabunda en August Hennsa

 
< Prev   Next >
Barberton Community Tourism South Africa - Genesis of Life!
Web site by oppiWeb.
© 2012 Barberton Community Tourism - Mpumalanga South Africa - All Rights Reserved.
oppiWeb is released under the GNU/GPL License.