|
18/08/10 Duke verloor stryd |
|
|
Wednesday, 18 August 2010 |
|
Dit was met groot hartseer dat ons verneem het van Duke se skielike dood verlede Woensdag by die Wild Care Africa-rehabilitasie sentrum.
Volgens Petronel Nieuwouldt, eienaar, het hy die naweek tekens getoon dat alles nie wel is nie en het Dinsdag koors ontwikkel. Hulle het die veearts ontbied en ‘n bloedsmeer is geneem wat bosluisbytkoors geidentifiseer het. “Met die dat hy nooit biesmelk van sy ma gekry het nie, het hy geen immuniteit teen die siekte gehad nie,” het sy gesê.
Antibiotika is toegedien, maar hy het vinnig agteruitgegaan en is teen Woensdagmiddag 15:30 dood.
Frommel Duke du Preez is op 29 Mei op die plaas Madikela van Roelf en Kobie du Preez gebore. Dit was van die begin af duidelik dat daar probleme was en aangesien die kameelperdkoei reeds twee kalfies verloor het is daar besluit om in te tree en die klein kameelperdjie van sy ma te verwyder. Hy kon nie loop nie en het 24 uur sorg nodig gehad. Hulle het hom aanvanklik in ‘n hangsak gesit en Marina du Preez het hom geleer om te loop deur teen die regreboud te klap en dan sy been vorentoe te druk.
Kobie het gehoor van Petronel se sentrum wat daar naby oopgemaak het en haar dadelik gekontak vir hulp wat sy baie gewillig aangebied het.
Met die dat Petronel voltydse studente by haar het kon iemand heeltyd by Duke wees. Hy het gefloreer onder almal se aandag en liefde. Hy het ook gesorg vir ‘n paar benoude oomblikke veral toe ‘n groot knop op sy heup ontwikkel het. Gelukkig kon die veearts bevestig dat dit slegs’n bindweefselletsel was en dit het mettertyd self genees.
Duke is elke dag uit sy boma gelaat en hy kon die boswêreld om hom begin verken. Hy het steeds die nodige aanvullings gekry, maar Petronel meen dat, soos met enige wilde dier wat deur mense grootgemaak word, elke dag ‘n wonderwerk was. “Ek het elke aand dankie gesê vir nog ‘n dag wat ons gewen het”.
Ongelukkig het ‘n Hoër Hand anders beskik.
Die Du Preezs bedank graag die personeel en vrywilligers van Wild Care Africa, in die besonder Petronel Nieuwoudt en Hendrik Smit, vir alles wat hulle gedoen het om sy lewe te probeer red. “Duke, soos julle hom genoem het, sal vir altyd ‘n spesiale plekkie in ons almal se lewe hê,” het Kobie gesê.
Hy het in sy kort lewe, twee maande en 14 dae, baie mense vanoor die hele wêreld se lewens geraak. Hy was baie lief vir aandag, veral van die vroulike geslag.
 Die foto is die Saterdag voor sy dood saam met Jana Schellingerhou geneem
 Petronel Nieuwoudt saam met Duke
|